Die VF Plus het ’n dringende beroep gedoen op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Velenkosini Hlabisa, om onmiddellik in te gryp by die Mafube-plaaslike munisipaliteit waar inwoners al byna nege weke wag vir ‘n waterpomp om volhoubare watervoorsiening aan die munisipaliteit te bewerkstellig.
Die Vrystaatse departement van Cogta het reeds in September aangedui dat ’n nuwe waterpomp binne ” ‘n paar dae” beskikbaar sou wees, aangesien die munisipaliteit nie oor die nodige fondse beskik nie. Tog het daar nege weke later steeds niks gebeur nie.
Die LUR, Saki Mokoena, het self bevestig dat die departement die pomp sou aankoop, maar tot op hede is daar geen vordering gemaak nie.
Intussen verkeer inwoners van Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling in haglike omstandighede, al is die munisipaliteit so te sê sedert 2017 onder provinsiale administrasie.
Frankfort ontvang slegs sowat vyf ure water per dag, Cornelia is gereeld vir dae lank sonder water, en Villiers het geen chemikalieë vir watersuiwering oor nie. Die voorraad chemikalieë vir Frankfort, Cornelia en Tweeling sal na verwagting binne ’n week uitgeput wees.
Intussen het dienslewering tot stilstand gekom. Voertuie staan weens ’n tekort aan diesel, salarisse van raadslede is steeds nie betaal nie en sal waarskynlik ook nie in Oktober of November betaal word nie. Die invorderingsyfer het boonop gedaal tot 14% – die laagste nog.
Dit is duidelik dat die provinsiale ingrypings van die Vrystaatse Cogta misluk het. Mafube is vandag erger daaraan toe as vóór die sogenaamde ‘reddingsaksie’. Dit is onaanvaarbaar dat beloftes oor ’n enkele pomp nege weke lank nie nagekom word nie en dit terwyl inwoners sonder water sit.
Die VF Plus het die minister versoek om die proses te fasiliteer om die pomp aan te koop en om deursigtigheid en verantwoordbaarheid van beide die provinsiale en munisipale bestuur te eis.
Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg en die voortdurende versuim van die owerhede om basiese infrastruktuur te herstel en te voorsien, is onaanvaarbaar.


