Die VF Plus dring daarop aan dat ʼn ondersoek gedoen word na ʼn voetgangerbrug in die Ekurhuleni-metro wat nooit gebou is nie.
In ʼn verslag wat voor die metro se komitee vir vervoer, paaie en stormwater gedien het, beweer die departement van vervoer, paaie en stormwater dat ʼn voetgangeroorbrug tussen Zonkezizwe en Palmridge teen ʼn bedrag van R206 miljoen voltooi is. ʼn Finale voltooiingsertifikaat is selfs aan die verslag aangeheg.
Die komitee, waarvan die VF Plus deel is, het egter tydens ʼn onaangekondigde oorsigbesoek gevind dat dié oorbrug nooit gebou is nie. Slegs ʼn padbenaderingsteken is gevind waar die brug gebou moes word.
Die komitee het ook verdere ongerymdhede uitgewys. Van die R206 miljoen wat aan die projek toegeken is, kon die departement slegs van R14,4 miljoen verantwoording doen. Die uitstaande bedrag van R191,6 miljoen kon nie verklaar word nie.
Die VF Plus dring daarop aan dat die metro se openbare rekeningekomitee (MPAC) hierdie saak deeglik ondersoek en kwartaalverslae aan die raad lewer oor die vordering van die ondersoek.
Hierdie gebrek aan deursigtigheid en akkuraatheid in die departement se verslagdoening ondermyn nie net die departement se geloofwaardigheid nie, maar werp ook ernstige vrae oor die toesig oor openbare fondse.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen vir deursigtigheid en verantwoordbaarheid om te verseker dat openbare fondse regverdig en effektief gebruik word tot voordeel van al Ekurhuleni se inwoners.


