Die VF Plus dring daarop aan dat die munisipaliteit van Emalahleni omvattend verslag doen oor die stand van die brandweerdiens wat Kriel, Ogies, Phola, en Emalahleni / Witbank bedien.
‘n Skrywe hieroor is gerig aan die speaker van die munisipale raad, mnr. Solomon Nkosi. Daarin eis die VF Plus dat die saak tydens die volgende raadsvergadering bespreek word.
Dit volg nadat die plaaslike VF Plus-raadslid, me. Linda Vorster, onlangs self moes inspring om ʼn brand te help blus nadat die plaaslike brandweerdiens langer as ʼn uur geneem het om by die toneel uit te kom.
Die voorval onderstreep ernstige gebreke in die munisipaliteit se vermoë om doeltreffende brandvoorkoming- en bestryding in die munisipale gebied te verseker.
Die VF Plus het in die skrywe verder uitgelig dat ʼn gebrek aan toerusting en die swak instandhouding van bestaande toerusting ʼn bedreiging vir beide die gemeenskap en munisipale brandweerpersoneel inhou.
Die feit dat daar na bewering slegs twee brandweerspanne met bakkiesakkies beskikbaar is om die hele munisipale gebied te bedien, spreek vanself.
Alhoewel daar ʼn voldoende hoeveelheid groot brandweerwaens is, is daar slegs drie personeellede beskikbaar om dit te bestuur. Daar moet tussen sewe en elf brandbestryders per brandweerwa aan diens wees.
Tydens die brand, wat in een van die woongebiede ontstaan het, was dit ook duidelik dat gebrekkige samewerking, kommunikasie en koördinering tussen die brandweerowerhede en private brandverenigings, doeltreffende brandbestryding verder bemoeilik het.
Plaaslike gemeenskapslede is grootliks op hulself aangewese.
Die onwettige storting van vullis vergroot die gevaar van brande en moet dringend aangespreek word.
Die VF Plus sal bly stry teen die ANC-munisipaliteit se swak dienslewering.