Die koalisieregering wat die Oudtshoorn-plaaslike munisipaliteit sedert Junie 2022 regeer het, is op Donderdag 25 Julie beëindig toe die DA uit die gesamentlike koukus gestap het.
Ná verlede Donderdag se verwydering van die DA-burgemeester, mnr. Chris Macpherson, het die VF Plus die inisiatief geneem om alle politieke partye verteenwoordig in die raad, insluitend die DA, te nooi na ʼn vergadering op 31 Julie om onverwyld stabiliteit in die munisipaliteit te herstel.
Die doel van die vergadering is om ʼn regering van plaaslike eenheid (RPE) saam te stel uit alle partye verteenwoordig in die Oudtshoorn-munisipale raad wat sy inwoners se belange eerste stel.
Tans kan geen party in Oudtshoorn op sy eie regeer nie en is partye verplig om saam te werk.
Met die oog hierop het die VF Plus ʼn verklaring van voorneme opgestel wat aan al die politieke partye in Oudtshoorn beskikbaar gestel word. Die VF Plus nooi alle partye om dit te onderteken en hulle tot ʼn werkende en effektiewe regering in Oudtshoorn te verbind.
Stabiliteit en deursigtige, inklusiewe regering word nou dringend in Oudtshoorn benodig.
Die uitslag van die 2021-plaaslike regeringsverkiesing het ʼn baie moeilike en onstabiele werklikheid in Oudtshoorn geskep.
Tans geniet nege politieke party verteenwoordiging in die munisipale raad wat ʼn soortgelyke uitslag is as wat tans in Suid-Afrika op nasionale vlak bestaan.
Dié uitslag het gelei tot ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) wat tans oor Suid-Afrika regeer.
In Oudtshoorn is die situasie as volg:
DA 7 (28%), ANC 7 (28%), VF Plus 3 (12%), ICOSA 2 (8%), PA 2 (8%), OGI 1 (4%), GOOD 1 (4%), Advieskantoor 1 (4%), Saamstaan 1 (4%).
Dit is duidelik dat geen enkele politieke party ʼn meerderheidsregering in Oudtshoorn kan vorm nie. Tans is die posisie van burgemeester, sowel as dié van die onderburgemeester, ook vakant.
Die speaker, mnr. Johan Allers, het ʼn raadsvergadering belê vir eerskomende Donderdag waar ʼn nuwe burgemeester, onderburgemeester en indien nodig ʼn speaker, verkies sal word.
Daarna sal ʼn nuwe burgemeesterskomitee saamgestel word in samewerking met die deelnemende partye om ʼn RPE in Oudtshoorn daar te stel.
Hier is ʼn unieke geleentheid om ʼn nuwe model van plaaslike regering te skep wat tot inklusiewe groei en vooruitgang sal lei.
Die VF Plus sal verseker dat die belange van die inwoners van Groter Oudtshoorn voorop gestel word en dat stabiliteit nie in gedrang kom vanweë die optrede van enige enkele party nie.