Die VF Plus kan nie langer toesien dat die Ekurhuleni-metro belastinggeld verkwis op peperduur haalbaarheid- en omgewingsimpakstudies wat nie geld oorlaat om die projekte self af te handel nie.
In die geval van die Halalisa Tersiêre-padprojek wat beoog om ‘n doeltreffende stormwaterstelsel te skep, is R2 052 625, oftewel 40% van die aanvanklike begroting van R5 186 920, reeds bestee aan haalbaarheid- en omgewingsinpakstudies terwyl geen vordering met die werk gemaak is nie.
Dit wil voorkom of hierdie studies bloot ʼn manier geword het om geld te melk ten koste van die projekte self.
‘n Bedrag van R1 956 875 is ook verkeerdelik in ʼn verslag wat voor die metro se oorsigkomitee vir vervoer, paaie en stormwater gedien het aangedui as ʼn bedrag wat herverdeel is na kleiner projekte in Germiston.
Die werklike balans vir die Halalisa Tersiêre-padprojek behoort R3 128 295 te wees.
Hierdie verkeerde toewysing dui op potensiële finansiële wanbestuur en beklemtoon die behoefte aan ‘n deeglike ondersoek deur die metro se openbare rekeningskomitee (MPAC) om vas te stel hoe hierdie fout plaasgevind het en om soortgelyke toekomstige voorvalle te voorkom.
Die VF Plus dring daarop aan dat MPAC hierdie saak deeglik ondersoek en verantwoordbaarheid afdwing.
Die VF Plus sal aanhou toesig hou oor hierdie en soortgelyke projekte om te verseker dat belastingbetalers se geld verantwoordelik en effektief gebruik word en dat infrastruktuurprojekte wat belowe is en waarvoor beplan en begroot is in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP), afgehandel word.


