fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrae hang steeds oor land se intelligensiedienste weens regering se onkunde oor militêre opleiding aan Libiërs

Talle vrae hang oor die militêre opleiding wat aan 95 Libiërs gegee is in ʼn private opleidingskamp by Witrivier in Mpumalanga en veral oor die regering se klaarblyklike onkunde daaroor.

In ʼn polisie-klopjag verlede week, is 95 Libiese burgers in hegtenis geneem wat vermoedelik militêre opleiding onder die dekmantel van sekuriteitsopleiding ontvang het.

Dit kom boonop nadat die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF) Suid-Afrika verlede jaar op die gryslys geplaas het van lande wat nie sterk genoeg teen geldwassery en terrorisme optree nie.

Ek het in die onlangse verlede verskeie vrae in die parlement gevra oor die militêre opleiding wat buitelandse groepe in Suid-Afrika ontvang, veral in die Oos-Kaap. Die antwoord hierop was telkens ontkennend.

Die Witrivier-voorval bied nou onomstootlike bewyse dat dit wel die geval is en dat die regering straks iets het om weg te steek oor die aangeleentheid.

Met die opstande in Julie 2021 in KwaZulu-Natal het die VF Plus gewaarsku dat die land se intelligensiedienste nie op standaard is nie en dat dit opgeknap moet word. Dit het klaarblyklik nog nie gebeur nie.

Om toe te laat dat buitelanders militêre opleiding in Suid-Afrika ontvang en dat dit moontlik met terrorisme verbind kan word, tas die territoriale integriteit van die land ernstig aan.

Luidens ʼn berig in die Daily Maverick van 28 Julie 2024 (Libyans arrested at SA security training firm linked to group which once tried to topple UN-backed Tripoli government) word die 95 persone verbind met ʼn groep wat onstabiliteit in Afrika teweeg wil bring.

Indien daar nie vinnig klarigheid oor hierdie aangeleentheid kom nie, sal die mense van Suid-Afrika kan eis dat koppe moet rol.

Suid-Afrika kan nie ontaard in ʼn opleidingsbasis vir internasionale terreurgroepe wat die burgers van die land se veiligheid bedreig nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.