Die VF Plus se takvoorsitter in die Dipaliseng-plaaslike munisipaliteit, mnr. Carel Pienaar, het versoek dat Balfour en Greylingstad by die lys van dorpe gevoeg moet word wat deur die Groen Skerpioene in Mpumalanga ondersoek word weens die erge besoedeling van die omgewing deur riool.
Die rioolwerke op dié dorpe is nou al vir drie jaar buite werking. Die onverwerkte riool vloei in die Suikerbosrand-rivier en hou ‘n gesondheids- en omgewingewingsgevaar in.
Op 30 September vanjaar het die VF Plus aan mev. Pamela Ntuli (hoofdirekteur van omgewingsake in Mpumalanga en aan die Groen Skerpioene) geskryf oor verskillende munisipaliteite se blatante miskenning van nasionale wetgewing rakende die besoedelingsprobleem.
In dié brief, waarin optrede gevra word, is besonderhede gegee oor die presiese gebiede waar die rioolwater gemors word, en selfs koördinate is gegee om die Groen Skerpioene te help met die ondersoek na die situasie in die dorpe Hazyview, eMalahleni, Standerton en Bethal.
Die VF Plus sal ook die premier van Mpumalanga, mev. Refilwe Mtshweni-Tsipane, en die LUR vir omgewingsake, mnr Vusi Shongwe, vra om seker te maak dat daar opgetree word teen munisipaliteite wat besoedelingswetgewing oortree.
Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830