Die installering van voorafbetaalde watermeters in die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia) is ‘n goeie inisiatief, maar die feit dat dit nie gelykmatig geïnstalleer word in dié dorpe, omliggende woongebiede en nedersettings nie, sal afstuur op nog ‘n mislukte ANC-projek.
Alhoewel die munisipaliteit aanvoer dat die installasie van watermeters ‘n groot bydrae sal lewer ten opsigte van wanbetaling, sal dit geen vrugte afwerp om hierdie meters uitsluitlik in gebiede te installeer waar die meeste mense reeds hul rekening betaal nie.
Die VF Plus het in ‘n amptelike skrywe aan die administrateur van die Mafube-plaaslike munisipaliteit, Moses Moremi, sy ontevredenheid met hierdie projek geopper en genoem dat die invorderingskoers slegs verhoog sal word indien hierdie installasies gelykmatig en oral in die munisipaliteit gedoen word.
Die VF Plus se vrae aan die munisipaliteit in dié verband word bloot geïgnoreer en is slegs gedeeltelik in die openbare vergadering van Woensdagaand beantwoord. Gemoedere by dié vergadering het hoog geloop weens die munisipale bestuur se dubbele standaarde en swak bestuurspraktyke.
Die munisipaliteit se bestaande armlastigheidsbeleid maak reeds voorsiening vir inwoners wat nie water kan bekostig nie. Alle inwoners wat in omliggende gebiede woon, kwalifiseer egter nie daarvoor nie en die munisipaliteit sal nooit sy invorderingskoers kan lig indien almal nie oor dieselfde kam geskeer word nie.
In ‘n amptelike antwoord op ‘n vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer is bevestig dat 1458 watermeters geïnstalleer sal word teen einde November vanjaar. Gegewe die hoeveelheid huishoudings in die munisipaliteit, laat dit veel te wense oor.
Mafube se invorderingskoers is tans ‘n skamele 11% en hy skuld die departement van water en sanitasie sowat R270 miljoen. Die munisipaliteit sal nie sy invorderingskoers verbeter terwyl daar slegs gefokus word op gebiede wat reeds gereeld betaal nie.
Navrae: 079 517 8059