Berigte dat die eienaar van die Pofadder Hotel, mnr. Leon Brits, in sy huis vermoor is, het die meestal vreedsame Boesmanland geskok. Vroeë gerugte is dat die voorval met 'n arbeidsgeskil te doen het. Hy is na berig word met messe gesteek, met 'n ketting gewurg en in die binneshuise swembad gegooi, waar sy vrou hom aangetref het.
Pofadder het oor die afgelope jare sterk gegroei, met die Kamsbergmyn wat tussen hierdie dorp en Aggenys ontwikkel is. Dit skep ekonomiese moontlikhede in die Boesmanland, wat steeds onder 'n vernietigende droogte gebuk gaan. Ekstensiewe skaapboerdery in woestynomstandighede is naas toerisme die enigste ander noemenswaardige ekonomiese aktiwiteite.
Oor die algemeen is die sorgvrye aard van die omgewing en die vriendelikheid van die mense een van die omgewing se sterkste bates. Tyd sal leer of hierdie voorval 'n permanente einde daaraan gebring het.
Die gemeenskap word tot kalmte gemaan tot dit duidelik is wat presies gebeur het. Met die stygende temperatuur na aanleiding van wreedaardige moorde, beleef Suid-Afrika tans 'n plofbare situasie.
Terwyl die aanslag op gewone landsburgers se veiligheid moet stop, moet burgers ook met verantwoordelikheid optree en uitsprake maak.
Navrae: 074 166 5540