Die VF Plus het ‘n skrywe gerig aan die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Mokopane/ Potgietersrus) se waarnemende bestuurder, mev. Mampa en die administrateur, mnr MKF Boshilo, om dringend aandag te gee aan die verskaffing of vervanging van foutiewe elektriese transformators aan boere in die omgewing.
Die party het ook ‘n skrywe gerig aan Limpopo se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), mnr. Baisikopo Makamu, in dié verband.
Een van die boere, mnr Jan Marais, sukkel al sedert 2010 om ‘n 50 kVA-transformator deur die munisipaliteit te laat installeer. Tydens ‘n storm is die transformator beskadig en is dit tydelik vervang met ‘n 25 kVA-transformator. Na vele versoeke en skrywes is die oorspronklike transformator steeds nie vervang nie.
Nog ‘n boer van die omgewing, mnr Jan van der Lith, se 25 kVA-transformator is deur die weer beskadig en sy plaas is tans sonder enige elektrisiteit. Die transformator is allerbelangrik om die boorgatpompe aan te dryf vir watervoorsiening aan mens en dier. Al mnr. Van der Lith se versoeke en navrae in dié verband, is tot dusver bloot geïgnoreer.
Werknemers van die elektriese dienste-afdeling gebruik die finansiële toestand van die munisipaliteit klaarblyklik as verskoning oor waarom die vervanging en herstel van die transformators nie kan plaasvind nie.
Die VF Plus eis dat daar onmiddellik aandag aan die betrokke boere se probleme gegee word en sal volgehoue druk op die munisipaliteit uitoefen om die nodige dienste aan getroue belastingbetalers te verskaf.
Die gemeenskap van Potgietersrus kan nie gestraf word vir die munisipaliteit se wanbestuur nie.
Navrae: 066 024 4623