Die VF Plus kan nie die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se 2025/26-aansuiweringsbegroting steun nie. Dit weerspieël nie die beginsels van verantwoordelike finansiële bestuur nie en is ’n duidelike bewys van ANC-wanbestuur.
Met waterverliese van R64 miljoen en kragverliese van R108 miljoen in slegs ses maande, is Mogale City op die rand van ’n finansiële afgrond. Tog probeer die ANC die aansuiweringsbegroting gebruik as ’n politieke rookskerm, eerder as ’n statutêre meganisme ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) om werklike finansiële realiteite reg te stel.
Die dokument bevat onrealistiese inkomsteprojeksies, onvoldoende kostebeperkingsmaatreëls en die verskuiwing van fondse sonder duidelike regverdiging aangaande dienslewering.
Die munisipaliteit projekteer ’n invorderingskoers van 95%, terwyl die huidige realiteit slegs 93% is. Hierdie “gaping” in die begroting lei tot onrealistiese uitgawes wat uiteindelik lei tot skuld aan grootmaatverskaffers.
’n Aansuiweringsbegroting behoort finansiële dissipline te versterk en deursigtigheid te bevorder.
In Mogale City word dit egter misbruik om tekortkominge in beplanning en die ware omvang van die krisis te verdoesel.
Die VF Plus bly verbind tot die beginsels van aanspreeklike regering, volhoubare finansiële bestuur, en die beskerming van belastingbetalers teen roekelose en onverantwoordelike besluitneming.
Mogale City se inwoners verdien beter as ANC-magspeletjies en begrotings wat op papier mooi lyk, maar in die praktyk die munisipaliteit verder in die skuld en chaos dompel.


