Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit het ontaard in ’n slagveld vir interne ANC-faksiegevegte nadat die speaker, Moipoine Modikeng, skielik uit haar pos verwyder is.
Hierdie strategiese skuif deur die ANC-koukus het slegs twee dae voor ’n kritieke raadsvergadering plaasgevind waar ’n mosie van wantroue teen die burgemeester, Lerato Maloka, sou dien.
Dit is duidelik dat die ANC bereid is om sy eie speaker op te offer en die hele raadsproses te saboteer om te verhinder dat die burgemeester aanspreeklik gehou word.
Die raadsvergadering van 27 Maart is nou onbepaald uitgestel met ’n kort nota wat bloot bevestig dat die speaker se pos “vakant” is.
Die ANC se faksiegevegte het nie net die speaker verwyder nie, maar ook die burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Lulama Gamede.
Hierdie interne stryd het reeds veroorsaak dat die 2025/26-aansuiweringsbegroting nie betyds volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) aan die raad voorgelê is nie.
Die ANC se faksiegevegte en magspeletjies plaas die gemeenskap van Sedibeng in die kruisvuur en verlam die munisipaliteit se vermoë om sy basiese pligte na te kom.
Die VF Plus dring daarop aan dat die raad dringend ʼn nuwe speaker aanwys sodat raadsvergaderings weer kan plaasvind.
Deur raadsvergaderings uit te stel en begrotings te vertraag, bring die ANC se interne verdeeldheid onstabiliteit en skade aan die inwoners van Sedibeng.


