Die VF Plus beskou die Tshwane-metro se onlangse aankondiging van ‘n R26 miljard-toerismeplan as ‘n ekonomiese lugkasteel wat heeltemal verwyder is van die fiskale realiteit van die hoofstad.
Om 80 000 nuwe werksgeleenthede teen 2029 te belowe terwyl die metro se basiese bates en infrastruktuur ineenstort, is niks minder nie as onhaalbare politieke opportunisme.
Die voorgestelde Tshwane Economic Revitalisation Strategy steun swaar op openbare-private vennootskappe (OPV’s) vir die ontwikkeling van munisipale eiendomme, insluitend sportgeriewe, reservate en erfenisgebiede.
Die VF Plus het ernstige bedenkinge oor die uitvoerbaarheid en die onderliggende risiko’s van hierdie strategie:
• Verwaarlosing van huidige bates: Dit is onverantwoordelik om grootskaalse toerismegroei te projekteer terwyl die metro nie eens sy bestaande bates kan onderhou nie. Sportstadions en museums verval reeds weens jarelange verwaarlosing. Sonder ‘n stewige fondament van basiese instandhouding, sal geen private belegger die risiko loop om in hierdie vervalle omgewing te belê nie.
• Risiko van bate-vervreemding: Die plan maak voorsiening vir die grootskaalse oordrag van strategiese stadseiendom, soos die Tshwane Events Centre en die Pilditch-stadion, aan private ontwikkelaars. Sonder streng toesig en onafhanklike waardasies loop die metro die risiko om onvervangbare openbare bates teen ’n fraksie van hul werklike waarde te vervreem.
• Fiskale blootstelling vir belastingbetalers: In stede daarvan dat die privaat sektor die volle finansiële risiko dra, skep die voorgestelde langtermynkontrakte dikwels onvoorsiene verpligtinge vir die munisipaliteit. In die huidige ekonomiese klimaat kan Tshwane nie bekostig om belastingbetalers se geld as ’n waarborg vir hoë-risiko projekte te gebruik nie.
Die VF Plus waarsku dat die herhaling van vorige foute onder die dekmantel van “ekonomiese ontwikkeling” rampspoedig vir die metro se finansies sal wees.
Werklike ekonomiese groei spruit uit betroubare basiese dienste en deursigtige bestuur, nie uit onrealistiese miljardrandbeloftes wat nie deur ‘n geloofwaardige begroting gerugsteun word nie.
Die VF Plus sal voortgaan om aan te dring op ’n ontwikkelingstrategie wat gegrond is op fiskale dissipline, deursigtigheid en die beskerming van die metro se bates tot voordeel van al sy inwoners.


