fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus verwelkom ondersoek na beweerde korrupsie in Sedibeng-distriksmunisipaliteit

Die VF Plus is geensins verbaas oor die hofverskyning van Stanley Khanyile, munisipale bestuurder van die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, in die King William’s Town-landdroshof op klagte van bedrog, diefstal en geldwassery nie aangesien die Gautengse wetgewer ook reeds besig was met ‘n ondersoek na beweerde ongerymdhede in dié distriksmunisipaliteit.

Khanyile en twee ander mense staan tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal van meer as R29 miljoen terwyl hy die hoof van die departement van ontwikkeling in die Oos-Kaap was. Hy en sy medebeskuldigdes moet weer in Oktober in die hof verskyn.

Die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, het onlangs ‘n ondersoek aangevra na die Sedibeng-distriksmunisipaliteit, waaronder die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni, Midvaal en Lesedi val, asook na die munisipale bestuurder.

Adv. William Mokhari is deur Cogta aangestel om ongerymdhede van korrupsie, wanadministrasie, finansiële wanbestuur en nepotisme deur Khanyile en die Sedibeng-distriksmunisipaliteit te ondersoek.

Die ondersoek behels onder meer of:
• Khanyile sy vrou se handtekening vervals het met die aankoop van ‘n R5 miljoen huis;
• Hy meer as die ooreengekome salaris verdien het;
• Sindiswa Mpeta onreëlmatig as direkteur in die kantoor van die munisipale bestuurder aangestel is nadat sy deur die Mnquma-munisipaliteit in die Oos-Kaap afgedank is weens bedrog en korrupsie;
• Munisipale werkers onreëlmatig aangestel is;
• Daar nepotisme was met die toekenning van beurse.

Khanyile se aanstelling as munisipale bestuurder van Sedibeng is weereens ‘n bewys van kaderontplooiing deur die ANC waar ‘n persoon wat hom of haar skuldig maak aan wanbestuur of korrupsie, beloon word met ‘n pos in ‘n ander staatsdepartement of in dié geval in ‘n munisipaliteit.

Die VF Plus het onlangs die wetgewerkomitee vir Cogta om ‘n interne oudit gevra na die munisipaliteite van Emfuleni, Mogale City, Merafong en die Tshwane-metroraad.

Die party sal nie huiwer om munisipaliteite wat onderpresteer, te ondersoek en ongerymdheid te ontbloot nie. Belastingbetalers se geld kan nie langer vermors word nie en moet oordeelkundig tot voordeel van inwoners aangewend word.

Navrae: 071 604 9489

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.