Die VF Plus het gister tydens ‘n portefeuljekomitee-sitting van openbare werke en infrastruktuur die betrokke minister, Patricia de Lille, daarop gewys dat sy aanspreeklik gehou moet word vir uitgawes tydens die grendeltydperk waar afgewyk is van die normale verkrygingsprosedures.
Dit sluit in die Beitbrug-grensdraad, private kwarantyngeriewe en ander buitensporige aankope. Die totale bedrag wat die departement in dié tyd bestee het, beloop ‘n skrikwekkende R82 miljoen. Dit sluit die Beitbrug-projek in.
Die VF Plus wou by die minister weet hoe hierdie geld verhaal gaan word. Dit is nou duidelik dat gedurende die pandemie, die klousule wat afwyking van die normale verkrygingsprosedures toegelaat het in terme van Artikel 27(2)(L) van die Rampbestuurswet, erg uitgebuit is en dat dit nie eens duidelik is of die gekontrakteerde maatskappye wel hierdie dienste kon lewer nie. Dit het die weg gebaan vir uitgebreide korrupsie.
Dit is duidelik dat minister De Lille geen beheer het oor die uitgawes wat haar departement aangegaan het nie en sy moet hiervoor aanspreeklik gehou word.
Die uitermatige hoë koste waarvoor die regering gefaktureer is vir staatsbegrafnisse, wat ‘n bedrag van R76 miljoen beloop, is niks anders nie as ‘n ramp aangesien die Better Life Index ‘n verslag uitgereik het wat aandui dat die gemiddelde koste van ‘n begrafnis in Suid-Afrika R26 000 beloop.
Die VF Plus het dit verwelkom dat die departement ‘n klomp sake oor kwarantyngeriewe na die Spesiale Ondersoekeenheid verwys het aangesien die departement ‘n bedrag van R41 miljoen uitbetaal het vir swak en vuil geriewe wat sedert die inperkings die nuus gehaal het soos die Zithabiseni-oord in Mpumalanga en die Coastlands-hotel in Durban waar ‘n bedrag van R300 000 bestee is.
Die VF Plus het die minister daarop gewys dat antwoorde verskaf moet word, dat aksie geneem moet word en dat mense tronk toe gestuur moet word en dat die minister aanspreeklik gehou sal word vir die optrede van haar departement.
Navrae: 060 556 4347