Die VF Plus verwelkom die bevel wat teen die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit in die Mahikeng-hooggeregshof toegestaan is wat die munisipaliteit gebied om onmiddellik stappe te neem om die oorvloei van riool na die Rosendalplaas asook die Hartsrivier en Blesspruit in die Vryburg-omgewing stop te sit.
Die aansoek teen die munisipaliteit is deur die departement van water en sanitasie gebring na vergeefse ingrypings by die munisipaliteit sedert 2015.
Die feit dat die munisipaliteit so lank reeds weier om ag te slaan op die ernstige vermanings van die nasionale departement, versterk die indruk dat munisipaliteite landwyd geen respek het vir die omgewing en die land se skaars waterbronne nie.
Dit weerspieël ook ‘n ingesteldheid dat hulle onaantasbaar is en hulself as verhewe bo die landswette beskou.
Dit is daarom dringend noodsaaklik dat die departement die toetsing vir munisipaliteite se “blou- en groendruppel-status” hervat, die skuldige munisipaliteite identifiseer, en hierdie hofbevel ook na ander uitbrei.
Die voortgesette besoedeling van waterbronne weens wanbestuur met die gepaardgaande verval van riool-infrastruktuur, hou vernietigende gevolge vir die land in. Dit kom neer op ‘n vorm van sabotasie.
Inwoners van alle munisipaliteite in Noordwes, asook die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga, ly reeds jare onder die gevolge van besoedeling deur ANC-beheerde munisipaliteite.
Die VF Plus sal die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sesulu, in ‘n dringende skrywe versoek dat hierdie hofbevel uitgebrei word na alle munisipaliteite landswyd.
Navrae: 079 409 8342