fbpx
Vryheidsfront Plus

Emfuleni-munisipaliteit moet antwoord oor nalatigheid en wanbestuur nadat munisipale werker in rioolput by die Rietspruit-rioolwerke sterf

Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) sal verantwoording moet doen nadat ‘n munisipale werker in ‘n gru-voorval dood is in ‘n rioolput van agt meter diep by die Rietspruit-rioolwerke.

Die voorval kon moontlik vermy gewees het indien die oorledene van die vereiste veiligheidstoerusting voorsien is en nie alleen in die put was nie. Dit is onverskoonbaar dat die werker alleen by die rioolwerke met skoonmaakwerk besig was en die munisipaliteit sal hieroor moet antwoord.

Die persoon, wat twaalf ure tevore lewend gesien is, is Saterdagmiddag in die rioolput gevind nadat die brandweer ontbied is om ‘n rioolpypnetwerk wat by die rioolwerke oorloop, uit te pomp. Dit het ‘n verdere agt uur geneem om die rioolwater uit te pomp voordat die liggaam verwyder kon word.

Die totale ineenstorting van die Emfuleni-munisipaliteit se infrastruktuur is die gevolg van die stadsraad se onvermoë om voorkomende instandhoudingswerk te doen wat gelei het tot vorige rioolstortings in die Vaalrivier.

Die nasionale departement van waterwese en sanitasie het R20 miljoen aan die munisipaliteit bewillig en die nasionale tesourie het ‘n verdere R241 miljoen bygedra om infrastruktuur te herstel.

Die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, het verlede jaar Erwat (Ekhuruleni Water Care Company ) aangesê om rivierbesoedeling te help bekamp. ‘n Totaal van R93 miljoen is aan Erwat betaal en hulle het intussen uit die projek onttrek.

Die VF Plus het selfs samesprekings met die menseregtekommissie (MRK) gevoer waar lede op ‘n begeleide toer deur Emfuleni geneem is om die kritieke situasie waar te neem, maar ook dit het nog tot geen optrede gelei nie.

Intussen word die menseregte van inwoners geskaad wat daagliks blootgestel word aan riool wat in die strate en deur erwe vloei. Dit blyk dat daar geen dringendheid op munisipale, provinsiale en nasionale vlak is om die rioolkrisis in Emfuleni op te los nie.

Die Emfuleni-munisipaliteit, wat tans onder gedeeltelike administrasie van die Gauteng-provinsie is, se finansiële situasie het geensins verbeter nie. Die wanadministrasie duur voort en politieke binnegevegte striem die proses.

Dit is tyd dat die onbevoegde ANC in die munisipaliteit vervang word en die plaaslike regeringsverkiesing van 2021 is ‘n gulde geleentheid vir inwoners om ‘n bevoegde munisipale raad te verkies wat hul belange sal eerste stel.

Navrae: 076 616 2124

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.