Die VF Plus in die Tshwane-metroraad verwelkom die aanstelling van Sakkie du Plooy as voltydse voorsitter van die metro se regeringsoorsigkomitee.
Die party glo Du Plooy sal ʼn beduidende rol speel om die metro se leisels stewig vas te hou om die metro van krag tot krag te laat gaan.
Geen ekstra uitgawes sal aangegaan word vir hierdie pos as waarvoor daar reeds in die 2023/2024-boekjaar begroot is nie. Inteendeel daar sal ʼn besparing vir die stad wees as die take reg uitgevoer word.
Een van die oorwegings vir die aanstelling van ʼn voltydse voorsitter vir die regeringsoorsigkomitee was die ouditeur-generaal se 2021/22-finansiële jaarverslag wat beklemtoon het dat onvoldoende oorsig lei tot wanbestuur.
Die regeringsoorsigkomitee sal toesien dat die werk van die portefeuljekomitees verskerp word om seker te maak dat die besluite wat die metroraad neem, uitgevoer word tot voordeel van die inwoners van die metro.
Dit is ook belangrik dat komiteevoorsitters toegerus word om hul werk behoorlik te doen en om hul onderskeie komitees te lei om behoorlike toesig te hou oor die departement waarvoor hulle verantwoordelik is.
Deel van Du Plooy se verantwoordelikhede sluit ook in skakeling met die publiek wat dikwels gebrekkig was.
Die groot aantal petisies van die publiek wat jare agterstallig is, sal nou die nodige aandag geniet.
Die regeringsmodel van die metro, wat in 2011 opgestel is, sal ook hersien word.
Dit is van kardinale belang om ʼn effektiewe en korrupsievrye regering in die metro te vestig ter wille van elke inwoner.
Du Plooy sal ook optree as voorsitter vir raadsvergadering wanneer die speaker nie beskikbaar is nie.
Die party het ook Johann van der Spuy gelukgewens met sy aanstelling as voorsitter van artikel 79-komitee vir gedeelde dienste.
Van der Spuy vorm nou deel van die oorsigspan oor die regsafdeling, personeel, eiendomme wat aan die metro behoort, voertuigvloot en IT-funksies.
Die VF Plus wens Du Plooy en Van der Spuy sterkte toe met die reuse taak wat vir hulle voorlê.