Die Ekurhuleni-metro kan nie langer belastinggeld bestee aan die huur van private geboue terwyl sy eie geboue leegstaan nie.
Volgens die metro se departement van infrastruktuur se strategiese beplanningsverslag, wat voor die raad gedien het, bestee die metro meer as R1,4 miljoen per maand (BTW uitgesluit) aan die huur van kantoorruimte.
Die VF Plus het die metro versoek om ʼn ouditverslag aan die raad voor te lê rakende die privaat persele wat die metro huur en waarom sy eie geboue nie benut word nie.
Die Ekurhuleni-metro se bateregister is meer as ʼn dekade gelede opgedateer en daarom is dit belangrik om vas te stel hoeveel raadseiendom tans vakant, verwaarloos en kwesbaar vir vandalisme is.
Die ou Brakpan-biblioteek is ʼn sprekende voorbeeld van ʼn metro-eiendom wat leeggestaan en later geplunder en in ʼn brand verwoes is.
Die biblioteek wat die afgelope sewe jaar leeggestaan het, was eers geoormerk as kantoorruimte vir die Ekurhuleni-metropolisie, maar dit het nie gerealiseer nie.
Private instansies wat belangstelling getoon het om die gebou te huur, se aansoeke was ook onsuksesvol.
Dié gebou kon ʼn inkomste vir die metro ingebring het, maar is nou tot niet. Dit gaan die metro inteendeel miljoene kos om dit te herstel.
Die Ekurhuleni-metro is onder finansiële druk en kan nie bekostig om duur kantoorruimtes te huur terwyl sy eie leegstaan of verwaarloos is nie. Die metro kan ook ʼn broodnodige inkomste uit die leë geboue verdien.