Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) moet ook verantwoordelikheid aanvaar vir die hiasinte en waterslaai wat besig is om die Vaalrivier te oorgroei en toeriste-aktiwiteite drasties te verminder.
Die VF Plus waarsku die afgelope jare die munisipaliteit om die storting van rioolvuil in die rivier stop te sit aangesien dit dien as voedingsbron vir hierdie indringerplante.
Die oormatige groei van hierdie plante in die Vaalrivier kan lei tot ‘n reeks ekologiese probleme, insluitend die verstikking van ander waterplante en kan die lewensvatbaarheid van ander waterdiere negatief beïnvloed. Dit kan ook waterpompe aan die rivieroewer verstop en skade aan boere se toerusting veroorsaak.
Randwater moet soos Emfuleni ook verantwoordelikheid vir die probleem aanvaar en dringende stappe neem om die rivier skoon te maak.
Die VF Plus het oewerbewoners bedank vir hul ingryping die afgelope naweek met die uitskep van die plante en om dit te vernietig.
Dit is egter onmoontlik vir inwoners alleen om die kilometers se indringerplante te verwyder.
Dringende ingryping van Randwater en Emfuleni is nodig om die probleem aan te pak en op te los.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op Emfuleni toe te pas om sy besoedeling van ʼn belangrike waterbron te stop en die rivier skoon te maak.