Limpopo se padagentskap (RAL) het na ʼn dringende versoek van die VF Plus toegesien dat ʼn sinkgat wat besig is om te vorm op die R71-brugpad in die rigting van Gravelotte en Phalaborwa, beveilig word.
Die R71 is ’n hoofpad in die omgewing wat daagliks baie swaar verkeer dra.
Die RAL het ʼn stop-en-ryteken deur die nag beman om motoriste te waarsku van die sinkgat in die pad. Die gat is ook met veiligheidstoerusting afgesper.
Die sinkgat het begin vorm ná die goeie reënval sedert November 2022. Water het onder die teer versamel en met die druk van verkeer het die gat begin vorm.
Volgens die RAL is die R71 die verantwoordelikheid van Sanral en sal ingenieurs vanoggend die pad besoek met die oog op herstelwerk.
Motoriste word intussen gewaarsku om versigtig te ry en eerder van alternatiewe roetes gebruik te maak.
Motoriste kan ook die volgende VF Plus-raadslede kontak vir raad met alternatiewe roetes en om op hoogte te bly met die vordering van herstelwerk:
Pieter Gerber in Hoedspruit by 072 298 5467, André Moss in Tzaneen by 066 238 1347 en Giel van Niekerk in Phalaborwa by 083 749 1998.


