Die VF Plus verwelkom die hooggeregshof se teregwysing van die Regterlike Dienskommissie (RDK) oor sy optrede teen die wangedrag van regter Nkola Motata.
Die RDK het Motata (nou afgetree) skuldig bevind aan wangedrag nadat die regter in 2007 onder die invloed van drank deur ʼn muur gery het.
Die hof het bevind Motata se optrede het ʼn veel sterkter sanksie regverdig en dat sy gedrag eerder op growwe wangedrag neerkom.
Appèlregter Visvanthan Ponnan het in ʼn meerderheidsbeslissing van die hof aangedui dat beide die Johannesburgse hooggeregshof en die RDK gefouteer het deur Motata nie in ʼn staat van beskuldiging te plaas nie. Hy is slegs ʼn boete van R1.5 miljoen opgelê en die saak is terugverwys na die RDK.
Rassistiese en seksistiese uitsprake wat Motata klaarblyklik ná die voorval op die toneel gemaak het, is nie in ag geneem nie. Hy het ook nie daarvoor om verskoning gevra nie.
Dié hantering van die Motata-saak deur die hof en die RDK het die publieke se vertroue in regspleging geskaad.
Die VF Plus sal die parlement en sy oorsiginstellings tot verantwoording roep vir die onbeholpe hantering van regters se ernstige misstappe.
Die gesloer met die saak teen regter John Hlophe, geskorste regterpresident van die Wes-Kaap, is nog ʼn voorbeeld.