Die VF Plus het tydens die Mangaung-metro se raadsvergadering teen ’n voorstel gestem om strategiese munisipale grond te verkoop, omdat die munisipaliteit nie eens ’n behoorlike verslag met die nodige besonderhede aan die raad kon voorlê nie.
Die verslag wat wel voorgelê is, stel voor dat munisipale grond in onder meer Hamilton, Ceciliapark, Kwaggafontein, Estoire en Tempe Lughawe vir ontwikkeling en moontlike verkoop oorweeg word, maar verskaf geen besonderhede oor watter soort ontwikkeling op watter terrein beplan word nie.
Hoewel die verslag verwys na moontlike nywerheidsprojekte, logistieke sentrums, residensiële ontwikkeling, toerisme, lugvaartverwante projekte en hernubare energie, word nêrens aangedui watter ontwikkeling vir watter spesifieke eiendom beoog word nie.
Die VF Plus steun ekonomiese ontwikkeling, maar nie wanneer raadslede gevra word om goedkeuring te gee sonder die nodige feite nie.
Elke ontwikkeling het ’n impak op sy omgewing. Dit kan bestaande woongebiede, verkeersvloei, munisipale infrastruktuur, die omgewing en selfs erfenisgebiede beïnvloed.
Dit is die raad en die munisipaliteit se verantwoordelikheid om seker te maak dat ontwikkelingsplanne tot voordeel van inwoners en ekonomiese groei is.
Die VF Plus waarsku ook dat openbare deelname betekenisloos raak indien inwoners nie vooraf weet wat in hul woonbuurte beplan word nie.
Die party het daarom gevra dat die munisipaliteit na die raad terugkeer met ’n volledige eiendom-vir-eiendom verslag wat die beoogde grondgebruik, omgewings- en finansiële implikasies behoorlik uiteensit.
Die ANC se geskiedenis van swak bestuur en ondeurdagte besluite is presies waarom die VF Plus nie ’n blanko tjek sal teken nie.
Openbare grond behoort aan die inwoners van Mangaung. Inwoners het die reg om te weet wat verkoop word, aan wie, waarvoor en hoe dit hul gaan raak.


