Die Tshwane-metro se jongste vorderingsverslag oor subsidies en toelae tot 30 Junie ontbloot ernstige tekortkominge in die besteding van ontwikkelingsgeld.
Terwyl opsommingstabelle ’n positiewe beeld probeer skep, bly groot bedrae vir basiese dienste soos veilige drinkwater, rioolstelsels en paaie onbestee of word dit verbeur, terwyl gemeenskappe swaarkry.
Die metro se versuim om basiese prosesse betyds af te handel, het daartoe gelei dat die nasionale tesourie (NR) R155,4 miljoen se ontwikkelingsgeld teruggeseis het.
Plaaslike projekte toon die omvang van die probleem:
• Tshwane se begroting vir openbare vervoer is met R224 miljoen (42,7%) gesny weens aanhoudende onderprestasie. Van die geld wat wel ontvang is, is ’n verdere R24 miljoen (8%) onbestee gelaat.
• R7,089 miljoen is aan Hammanskraal-paaie (Mfumostraat) toegewys, maar prestasie staan op R0,00 (0% bestee).
• Water- en buurtnetwerke in Mamelodi-uitbreiding 11 staan op 0% besteding (R901 090 onbenut). Die Parkmore-reservoir is op 55% besteding, met 45% (R6,81 miljoen) onbestee omdat die kontrakteur die terrein verlaat het.
• Rioolpypvervangings in die Noorde, die middestad en Pretoria-Wes het tot stilstand gekom nadat kontrakte verval het en nuwe tenders gekanselleer is.
• Mabopane-blok A (paaie) behaal slegs 3% prestasie (97% onbestee), terwyl Stinkwater-vloedbeheer op net 29% besteding (71% onbenut) staan.
• Uit die MIV/vigs-begroting is R14,2 miljoen (48,3%) onbestee omdat plaaslike opvoeders nie betyds gekontrakteer is nie.
Die VF Plus weier om sulke verslae bloot “ter kennisgewing” te aanvaar terwyl inwoners se regte vertrap word.
Die VF Plus eis dat tugstappe geneem word teen die amptenare wat verantwoordelik is vir die verlies van R155,4 miljoen weens die versuim om wetlike kennisgewings betyds te publiseer.
Só ’n groot finansiële verlies kan nie sonder aanspreeklikheid bly nie.
Verder dring die party aan op ’n dringende ondersoek na tenders wat op die laaste oomblik onderteken word, asook teen amptenare wat kontrakte laat verval. Hierdie praktyke ondermyn goeie bestuur en skep onnodige risiko’s vir die stad.
Die VF Plus vra ook dat kontrakteurs wat werk staak, nie net beboet word nie, maar op ’n swartlys geplaas word sodat hulle nie weer met openbare fondse beloon word nie.
Daar moet waarborge wees dat alle onbestede fondse beskerm word deur geldige oordragaansoeke, sodat belastinggeld nie verlore gaan nie en projekte nie onnodig vertraag word nie.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om die ANC en sy vennote uit die kussings te lig sodat Tshwane-inwoners se belastinggeld met sorg en doeltreffendheid aangewend word.


