Die VF Plus verwelkom die Ekurhuleni-metro se besluit om eindelik ’n formele interregeringsdispuut teen die Gautengse departement van gesondheid te verklaar.
Die dispuut spruit uit die jarelange en onaanvaarbare onderbefondsing van primêre gesondheidsorgdienste wat die metro namens die provinsie lewer.
Dié stap moes egter al lankal geneem gewees het. Vir meer as twee dekades het die metro primêre gesondheidsorg deur sy 77 klinieke verskaf – ’n funksie wat grondwetlik en wetlik die verantwoordelikheid van die provinsiale regering is.
Tog het Gauteng jaar na jaar sy mandaat drasties onderbefonds en die metro gedwing om die tekort uit sy eie begroting aan te vul.
Volgens die stadsbestuurder se verslag dek die provinsie slegs sowat 14% van die werklike koste, wat beteken dat die metro 86% uit munisipale inkomste moet dra.
Die gevolge van hierdie onderbefondsing is duidelik sigbaar:
• ’n Tekort aan gesondheidswerkers.
• Gereelde medisyne-tekorte.
• Onvoldoende toerusting.
• Uitgestelde herstelwerk en swak instandhouding van geriewe.
• Toenemende druk op personeel wat onder uiters moeilike omstandighede werk.
Hierdie tekortkominge beteken dat inwoners nie die basiese gesondheidsorg ontvang waarop hulle geregtig is nie, terwyl plaaslike belastingbetalers gedwing word om ’n provinsiale verantwoordelikheid te finansier. Dit is eenvoudig onregverdig en onvolhoubaar.
Die VF Plus hoop dat die formele dispuut die Gautengse departement van gesondheid uiteindelik sal dwing om sy grondwetlike en finansiële verantwoordelikhede ernstig op te neem.
Inwoners van Ekurhuleni verdien toeganklike, behoorlik befondsde primêre gesondheidsorg, en die metro verdien billike vergoeding vir die dienste wat dit namens die provinsie lewer.
Die gesondheid van inwoners mag nooit die slagoffer word van voortdurende onderbefondsing en versuim nie.


