Die VF Plus het ’n skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, me. Tshimangadzo Ndou asook Limpopo se LUR vir samewerkende regering, Baisikopo Makamu, om ‘n aksieplan saam te stel vir die huidige waterkrisis wat die Makhado-plaaslike munisipaliteit (Louis Trichardt) teister.
Die VF Plus is met geen ander keuse gelaat as om Louis Trichardt se waterprobleme te eskaleer na distriks- en provinsiale vlak nie weens die Makhado-munisipaliteit se versuim om waterlekkasies te herstel en verouderde waterinfrastruktuur te vervang en te onderhou.
Die VF Plus se provinsiale kantoor is die afgelope week oorval met klagtes van inwoners wat in sommige gevalle nou al vir drie weke sonder water is.
Sake-eienaars in die sentrale sakegebied is ook warm onder die kraag oor die watertekorte wat hulle ervaar weens verouderde waterinfrastruktuur wat hul aktiwiteite kortwiek.
Daar is ook na bewering elf brandkrane in die dorp wat buite werking is wat ernstige gevolge kan inhou indien daar ‘n brand uitbreek.
Louis Trichardt kan nie bekostig om ondernemings wat ‘n broodnodige bydrae tot die plaaslike ekonomie lewer en werksgeleenthede skep, aan ander munisipaliteite af te staan nie.
Die VF Plus het versoek dat daar binne sewe dae terugvoer gegee word oor ‘n korttermyn-aksieplan om die waterkrisis in die dorp die hoof te bied en ‘n langtermyn-aksieplan om die probleem op ‘n permanente basis aan te spreek.
Die party het ook die distriksmunisipaliteit gewaarsku om waaksaam te wees vir kontrakteurs wat kontrakte verontagsaam en water ten duurste aan inwoners verkoop in stede daarvan om infrastruktuur te herstel of te vervang.
Dit skep skuiwergate vir korrupsie en die sabotasie van waterinfrastruktuur.
Louis Trichardt verdien beter as die ANC.


