Die VF Plus het Internasionale Sigdag in Oktober saam met talle swaksiende bejaardes gevier waartydens gratis mediese hulp aan hulle verskaf is deur die Pretoria-Ooginstituut.
Vir ‘n beter geskenk kon die bejaardes nie gevra het nie.
“Vir die eerste keer in twee jaar kan ek my geliefdes duidelik sien”, was die woorde van mnr. Johan Steenkamp nadat hy gratis katarak-sjirurgie van die instituut ontvang het.
Die VF Plus se raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, Rina Marx, was teenwoordig terwyl die ongeveer honderd-en-twintig pasiënte katarak-sjirurgie ontvang het.
Volgens Marx bied die Pretoria-Ooginstituut elke jaar gratis katarak-sjirurgie op Internasionale Sigdag aan persone wat nie privaat mediese sorg kan bekostig nie.
Die waglys by staatshospitale is baie lank en die meerderheid van persone wat katarak-sjirurgie benodig, word nie gehelp nie. Hierdie swaksiendes is meestal bejaardes.
Volgens Marx kan enige persoon aansoek doen om in Oktober tydens Sigdag gratis katarak-sjirurgie te ontvang.
Geskikte kandidate moet hul mediese rekord e-pos om sodoende te kwalifiseer vir die sjirurgie. Aansoeke is nou oop vir Oktober 2023.
Om aansoek te doen om moontlik te kwalifiseer vir Oktober 2023, kan Anushka Boshoff by die VF Plus se Gautengse kantoor gekontak word by anushka@vfplus.org.za.
Die VF Plus betuig sy opregte dank teenoor die noodsaaklike hulp wat die instituut elke jaar aan behoeftige bejaardes verskaf.