’n Besluit van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) om op te tree teen 118 stakers, stuur ’n sterk boodskap dat onwettige stakings nie langer geduld sal word nie.
Die persone het deelgeneem aan ’n onwettige staking van 19 tot 22 September (verlede maand) en veral vullisdienste is in die proses ontwrig.
Die munisipaliteit is nou in die proses om kennisgewings op al die betrokke persone te beteken waarna daar met dissiplinêre stappe teen hulle begin sal word.
Die beginsel van "geen werk – geen betaling" gaan geïmplementeer word teen werknemers wat deelgeneem het aan die onwettige staking asook dié wat tans weier om hul werk te verrig.
Daar sal intussen van tydelike diensverskaffers gebruik gemaak word om toe te sien dat dienste steeds gelewer word.
Die VF Plus sal die proses deeglik monitor om seker te maak dit word in die belang van dienslewering so gou moontlik afgehandel.
Die raad het ook die VF Plus se voorstel aanvaar dat daar ten minste maandeliks verslag gelewer moet word oor die vordering met die dissiplinêre prosesse en dienslewering.
Inwoners moet nogtans kennis neem van die proses en voorsiening maak daarvoor dat veral vullisverwydering nadelig geraak kan word.
Hierdie optrede is noodsaaklik aangesien wettelose optrede soos onwettige stakings nie langer geduld kan word nie.
Dit sal ’n harde en duidelike boodskap aan werkers stuur dat dienslewering nie langer gebruik kan word as ’n hefboom om die munisipaliteit te dwing om aan onbillike eise gehoor te gee nie.
Die VF Plus het van die begin van die staking aangedring dat daar teen die betrokkenes opgetree word.
Die party sal toesien dat die regte stappe binne die raamwerk van die wet geneem word om die saak op die mees spoedige en effektiewe wyse moontlik te besleg.
Die VF Plus sal ook die aanstelling en dienslewering van die diensverskaffers wat gebruik gaan word, deeglik monitor om seker te maak inwoners kry waarde vir hul geld.