Die VF Plus het onlangs ʼn hernieude huurooreenkoms vir die Brakpan-rugbyklub by die Bosman-stadion in Brakpan help hersien en finaliseer.
Die aanvanklike huurkontrak, wat vroeg in 2022 deur die rugbyklub ontvang is, het uitdagings ingehou veral met ʼn buitensporige hoë huurtarief vir slegs 637 vierkante meter se stadiongeboue wat die rugbyveld en paviljoen uitsluit.
Hierdie kontrak was wesenlik onbillik en onbruikbaar vir die rugbyklub se behoeftes en finansies.
Die VF Plus het onvermoeid met die betrokke departemente geskakel en aangedring op billike voorwaardes vir die klub se huurkontrak.
Tydens ʼn vergadering tussen Ekurhuleni se infrastruktuur-oorsigkomitee en die oorsigkomitee gemoeid met sport, is aanbeveel dat gemeenskapsgerigte eiendomme aan maatskaplike tariewe eerder as kommersiële tariewe onderhewig moet wees.
Gevolglik het die Brakpan-rugbyklub ʼn nuwe huurkontrak teen die veel laer maatskaplike tariewe ontvang wat die hele gerief insluit.
Die rugbyklub spog met ʼn erfenis van meer as ʼn eeu, is betrokke by die behoud van onvervangbare aandenkings en dien as die Valke-rugbyunie se hoofkwartier.
Die klub het oor baie jare die gerief met sy eie hulpbronne onderhou wat verseker het dat dit in ʼn goeie toestand gebly het.
Dit staan in skrille kontras met die Pam Brink-stadion in Springs wat die ANC/EFF-koalisie wil sloop en as begraafplaas hersoneer.
Die VF Plus het hiermee sy verbintenis tot die beveiliging en behoud van sportgeriewe en erfenisbelange vir die gemeenskap bevestig.
Dit is noodsaaklik dat organisasies soos die Brakpan-rugbyklub sy deurslaggewende rol in die bevordering van sportontwikkeling binne die gemeenskap kan voortsit.