(Parlementsdebat: Wetsontwerp op die Onafhanklike Afbakeningsowerheid)
Afbakening is by uitstek ʼn instrument wat gebruik kan word om verkiesings te manipuleer en ʼn desperate ANC wat besig is om sy greep op die regering te verloor, kan allermins daarmee vertrou word.
Daar moet dus in die praktyk gestalte gegee word aan die naam van die wetsontwerp wat hiermee handel: Die Wetsontwerp op die Onafhanklike Afbakeningsowerheid maak dit duidelik dat die owerheid onafhanklik moet wees.
Die VF Plus se bydrae tot die wetsontwerp was dat die raadslede asook die komiteelede van die afbakeningsowerheid politiek onverbonde moet wees. Aktiewe deelname aan politieke bedrywighede sal so ʼn lid outomaties diskwalifiseer.
Die ANC se poging om nogtans beheer oor die raad te hou, word duidelik weerspieël in sy onversetlikheid jeens die keuring van raadslede, nieteenstaande die teenkanting van opposisiepartye.
Die departement se voorstel is aanvaar dat die keurpaneel verantwoordelik vir die voorstelling van die afbakeningsowerheid se raad, behoue bly.
Dié paneel kan en sal sekerlik deur die ANC gemanipuleer word om kaders as lede van die raad aan te stel.
Die voorstel van die VF Plus en ander opposisiepartye was dat só ‘n paneel eerder moet bestaan uit ‘n veelpartykomitee van die parlement wat deursigtigheid sou verseker.
Saam met deursigtigheid moet daar ook verantwoordbaarheid wees en gegewe die ANC se rekord, dui alles nou reeds daarop dat die raad hom nie daaraan sal steur nie.
Die VF Plus se mening is dat ʼn proses van openbare deelname gevolg moet word in die samestelling van die komitee.
Die afbakeningsraad se bevoegdheid om grense te bepaal wat gemeenskappe direk raak, moet verantwoordbaar staan teenoor sulke gemeenskappe.
Die VF Plus se boodskap is nogtans aan die ANC dat ongeag watter planne hy smee, dit hom nie aanstaande jaar by die stembus sal red nie.
Die ANC kan met niks vertrou word nie. Sy onbevoegdheid spreek uit Suid-Afrika se ligte wat nie meer aan is nie. In stede van regeer was daar net ʼn poging tot selfverryking.
Hierdie dinge sal waarskynlik eers insink wanneer die ANC in 2024 in die opposisiebanke van die parlement sit.


