Dit blyk dat die ANC in Limpopo van plan is om drie van sy burgemeesters te vervang in swak presterende munisipaliteite om dienslewering te verbeter. Of dit vrugte gaan afwerp, moet egter gesien word.
Met die ANC se rekord van onderprestering en kaderontplooiing staan die VF Plus skepties oor nuwe aanstellings, maar hoop steeds in belang van inwoners dat dit ʼn verbetering bring.
Na bewering sal die uitvoerende burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, Dowelani Nenguda, die uitvoerende burgemeester van Sekhukhune-distriksmunisipaliteit, Maleke Mokganyetji, en die burgemeester van Makhado-plaaslike munisipaliteit, Samuel Munyai, uit hul poste verwyder word.
Die VF Plus sal volhou met die druk wat hy in Maart vanjaar begin het met klagte wat ingedien is by die menseregtekommissie (MRK) oor die voortslepende waterkrisis in Louis Trichardt en Musina.
ʼn Strafregtelike klag is ook ingedien teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit wat verantwoordelik is vir die verskaffing van water aan hierdie dorpe en omliggende gebiede.
Die VF Plus sal die herskommeling fyn dophou en sal aanhou veg vir inwoners se reg tot basiese dienslewering.