Die VF Plus het verskeie klagtes ontvang van motoriste in die Mopani-distrik (Tzaneen, Phalaborwa, Gravelotte, Letsitele) oor die toestand van die R36-pad na Gravelotte.
Mense is ontevrede oor die onbehoorlike metodes wat gebruik word om die kwaliteit van die padoppervlak te verbeter en dit blyk dat slaggate net oppervlakkig gevul word.
Inwoners het selfs video’s aan die VF Plus gestuur van strepe wat op die oppervlak van die pad geverf word reg langs slaggate wat nie reggemaak is nie.
Sulke laslappie-brouwerk is duidelik net ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld.
Die VF Plus het in Augustus vanjaar terugvoer van Limpopo se padagentskap (RAL) ontvang oor die party se versoek om ‘n lys van paaie met swaar verkeer in die provinsie wat ernstige aandag verg.
Die party sal dit ondersoek en druk op die RAL plaas om toe te sien dat ‘n herevaluering gedoen word van die planne saam met die nasionale padagentskap, Sanral, wat uiteindelik verantwoordelik is vir die instandhouding van die R36.