Plaaslike regering kan gered word en munisipaliteite se verval kan omgedraai word. Dit was vandag se kernboodskap van die VF Plus se manifesbekendstelling met die tema “Dis Ons Tyd”. (Manifes hierby aangeheg)
Die manifes, wat bekend gestel is by die Silverlakes Farm Hotel in Pretoria-Oos, bied ’n nuwe begin en praktiese oplossings om plaaslike regering te herstel, gemeenskappe weer op te hef en te laat glo in die toekoms.
Die “Ons” waarvan die VF Plus in sy tema praat, is almal wat nie bereid is om langer gebuk te gaan onder munisipale verval en swak dienslewering nie; gewone, wetsgehoorsame burgers wat in vrede wil leef, wat waarde vir hul geld en ‘n beter toekoms vir hulle en hul kinders wil hê.
Plaaslike regering in Suid-Afrika is in totale chaos gedompel. Dienslewering faal. Die meeste munisipaliteite is feitlik bankrot en onvolhoubaar. In enkele gevalle waar die verval dalk nie so ooglopend is nie, gebeur dit wel, dalk net minder opvallend.
Dit is nie nodig om met syfers en voorbeelde hiervan te oortuig nie. Almal ervaar dit daagliks: Watertekorte, besoedelde water, paaie vol slaggate, straatligte wat óf buite werking is óf heeldag brand, verkeersligte wat nie werk nie, riool wat in die strate, riviere en die see inloop.
Hiervoor betaal die publiek onbekostigbare erfbelasting en tariewe met foutiewe munisipale rekeninge wat ‘n algemene verskynsel geraak het.
Dít gebeur regoor die land, van die kleinste plattelandse dorpie tot die grootste metro. Dorpe is saamgevoeg om groot munisipaliteite of metrorade te vorm, maar al wat verbeter het, is die vergoeding van raadslede en senior amptenare.
In 1994 was daar 1262 plaaslike munisipaliteite, teenoor vandag se 213 met snel groeiende inwonerstalle. Munisipaliteite kan nie voldoende dienste aan hierdie onrealistiese groot diensgebiede lewer nie.
Die VF Plus se 2026-manifes fokus daarom op ‘n regrukplan om die verval munisipaliteite te stuit. Stygende belastings, hoë werkloosheid, wanbestuur en onkundige amptenare met buitensporige salarisse lei toenemend tot infrastruktuurkrisisse en powere dienslewering.
Teen hierdie agtergrond het die huidige beleidsmodel, wat ras en politieke lojaliteit bo meriete stel, totaal misluk.
Die VF Plus se tema “Dis Ons Tyd”, stel ‘n plan voor wat gegrond is op vyf kernbeginsels: Gemeenskappe eerste, meriete en kundigheid, finansiële verantwoordbaarheid, die vryheid om te bou en groei en stabiele koalisies.
Die volgende tienpuntplan spruit hieruit voort en behels onder meer:
• Afwenteling van mag.
• Doeltreffende belastingbesteding.
• Billike en akkurate tariewe.
• Infrastruktuurinstandhouding.
• Amptenare moet finansieel verantwoordbaar wees.
• Gesonde en veilige omgewing.
• Ekonomiese groei en werkskepping.
• Merietegegronde aanstellings.
• Christelike waardes en gelykheid.
• Stabiele koalisies.
Die VF Plus glo dit sal voorspoed bring vir almal wat by “Ons” ingesluit word. Die Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe wat ons taal, kultuur, erfenis en identiteit wil beskerm, en wat terselfdertyd volwaardig wil deelneem aan die opbou van ’n voorspoedige Suid-Afrika.
Ons is die klerke, bestuurders, ambagsmanne en arbeiders wat lang ure onder moeilike omstandighede werk om ons gesinne te voed en te onderhou.
Ons is prokureurs, argitekte, ingenieurs, bourekenaars, dokters en talle ander professionele mense wat elke dag ’n bydrae lewer tot die opbou van ons land.
Ons is die plaasboere en plaaswerkers wat, ten spyte van misdaad, droogtes, moeilike ekonomiese omstandighede en dikwels geen ondersteuning van die regering, steeds sorg dat voedsel op Suid-Afrikaners se tafels beland.
Ons is die vragmotorbestuurders, treinoperateurs, fabriekswerkers en mynwerkers sonder wie se arbeid die wiele van die ekonomie nie kan draai nie.
Ons is die pendelaars wat daagliks vir ure deur alle weerstoestande moet reis omdat openbare infrastruktuur en vervoerdienste nie funksioneer soos dit hoort nie.
Ons is die mense wat nie werk kan kry nie, maar wat nie op staatsafhanklikheid staatmaak nie; wat deur markstalletjies, informele handel en klein ondernemings hul eie geleenthede skep deur gebak, groente, vrugte, handwerk en ander produkte te verkoop om hul gesinne te onderhou.
Ons is die belastingbetalers wat toenemend meer belasting betaal, maar te dikwels geen dienslewering daarvoor ontvang nie.
Ons is die mense wat hul werk verloor het, of wat sukkel om werk te kry omdat regeringsbeleid en diskriminerende wetgewing geleenthede beperk.
Ons is die jongmense met groot drome en ambisies wat wil slaag op grond van harde werk, talent en meriete.
Ons is die Godvresende en wetsgehoorsame burgers wat glo in sterk families, gemeenskapswaardes en wedersydse respek; mense wat bloot in vrede wil leef, sonder vrees vir misdaad en sonder die las van korrupsie, wanbestuur en vervallende dienslewering.
Ons is die mense wat glo dat geen Suid-Afrikaner weens ras, taal of kultuur benadeel moet word nie en dat elke burger gelyke geleenthede moet hê om te floreer.
Ons is die mense wat hierdie land elke dag aan die gang hou.
Ons is die mense wat die rekening betaal.
Ons is die mense wat ’n beter toekoms vir ons kinders wil bou.
Ons is die mense wat genoeg gehad het van die hopelose korrupte ANC.
Dít is wie ons is.
Dít is jy. Dít is ek.
En dít is ons tyd.


