Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Noordwes-premier moet verantwoordelikheid neem vir tekort aan medikasie in provinsie

Dit is ‘n skande dat die inwoners van Noordwes vir jare reeds gebuk moet gaan onder gebrekkige gesondheidsorg weens chroniese medisynetekorte by hospitale en klinieke regoor dié ANC-beheerde provinsie.

Die Noordwes-gesondheidsdepartement word gekenmerk deur institusionele verval, korrupsie en wanbestuur ten spyte van ingrypings deur die nasionale regering.

Die departement was van 2018 tot 2022 onder administrasie sonder enige sigbare resultaat.

Die impak hiervan op inwoners wat afhanklik is van die staat se mediese dienste is enorm. Selfs pasiënte met lewensgevaarlike chroniese mediese toestande soos hoë bloeddruk en diabetes, word gereeld by klinieke en hospitale weggewys weens medisynetekorte.

Die redes vir hierdie stand van sake is legio. Benewens die korrupsiekultuur en algemene laksheid wat die administrasie kenmerk, weier baie verskaffers van medisyne en ander mediese materiaal om verder met die provinsie sake te doen weens geen- of laat betalings.

Tydens ‘n oorsigbesoek aan die Mmabatho-mediese depot in 2022 is byvoorbeeld onbetaalde fakture gevind wat terugdateer tot 2014. Dit blyk dat die situasie steeds voortduur.

Met slegs 30% van medikasie en 17% ander bestelde mediese materiaal wat tans aan klinieke en hospitale gelewer word, is dit ook duidelik dat daar min tot geen voorraadbeheer of -kontrole gedoen word nie. Met die administratiewe rompslomp, wanbestuur en onbevoegdheid wat skynbaar in die departement heers, is die vervalle stand van openbare gesondheidsorg in Noordwes byna vanselfsprekend.

Dit is noodsaaklik dat die institusionele verval, korrupsie en wanbestuur in Noordwes se gesondheidsdepartement dringend gestuit word. Dit sal slegs plaasvind indien dissipline en professionaliteit in die administrasie herstel word. Interne vermoë vir kernfunksies soos die verspreiding en beheer van medisyne en ander voorraad, moet opgebou word om volhoubare dienslewering te verseker. Die aanstel van konsultante en kontrakteurs om departementele funksies te verrig, is nie die oplossing nie.

Noordwes se premier, Lazarus Mokgosi, behoort verantwoordelikheid te neem en in te gryp om hierdie noodsaaklike diens in Noordwes te herstel.

Professionele gesondheidswerkers en pasiënte in Noordwes kan nie langer uitgelewer word aan hierdie skandelike stand van sake nie.

Die inwoners van Noordwes moet op 4 November met hul stemme duidelik maak dat die ANC nie langer op enige vlak van regering geduld kan word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.