Die VF Plus sal die gemeenskappe van Gezina en Capitalpark bystaan om te verhinder dat die hervestiging van die sogenaamde Melgisedek-plakkers die woonbuurte in ‘n misdaadnes omskep.
Dit het pas bekend geraak dat die metroraad binnekort die onwettige besetters van die omstrede Melgisedek-sentrum na ‘n tentedorp in Capitalpark gaan verskuif nadat die appèlhof verlede week ‘n tweede poging van Lawyers for Human Rights om die hervestiging te keer, verwerp het.
Die uitspraak, maar veral die metroraad se reaksie daarop, is ’n terugslag vir die regte van kwesbare inwoners en open die deur vir ’n harde, onmenslike benadering deur die Tshwane-metro wat tegelykertyd die Melgisedek-inwoners benadeel en die buurtkarakter van Capitalpark kan vernietig.
Die VF Plus erken dat onveilige geboue beveilig moet word, maar dit mag nooit ten koste van menswaardigheid gebeur nie. Die metro se belofte van “veilige en waardige tydelike akkommodasie” klink hol as die geskiedenis van soortgelyke prosesse in Tshwane in ag geneem word.
Die VF Plus is in kontak met ontwikkelaars wat bereid is om waardige alternatiewe verblyf vir die inwoners van Melgisedek in die stadsentrum te ontwikkel, maar die ANC/EFF/ActionSA-regering in die metro verwerp hierdie oplossings en dring aan op hervestiging in ‘n tentedorp in die Moot.
Dit is moedswillig en kwaadwillig en bied geen daadwerklike oplossing vir die probleem nie. Almal ly skade as gevolg van die metroregering se hardvogtige optrede.
Die VF Plus eis:
• Dat geen uitsettings plaasvind voordat voldoende, waardige en permanente alternatiewe behuising verseker is nie.
• Dat die proses nie gebruik word om politieke punte aan te teken nie, maar om werklik die belange van alle inwoners dien.
Die VF Plus sal hierdie saak noukeurig dophou en alle beskikbare middele gebruik om seker te maak dat regverdigheid en menswaardigheid nie opgeoffer word nie.


