Die VF Plus is diep bekommerd oor die skokkende reeks sterftes van vroue in en om Kemptonpark nadat nóg ’n vrou se oorskot in Olifantsfontein gevind is.
Vyf vermoedelik vermoorde vroue is die afgelope sowat twee maande in dieselfde omgewing in en om Kemptonpark gevind. Almal was gedeeltelik of heeltemal ontklee en daar was klaarblyklik kommerwekkende ooreenkomste in die omstandighede en wyse hoe hulle vermoor is.
Die polisie het nog nie bevestig dat ’n reeksmoordenaar verantwoordelik is nie, maar die ooreenkomste is sodanig dat dit dringende optrede regverdig.
Die fonds van ‘n vyfde vrou maak die situasie nog meer kritiek.
Die VF Plus verwelkom die polisie se besluit om ’n multidissiplinêre taakspan, insluitend die moord- en roofeenheid en die eenheid vir ondersoekende sielkunde, saam te stel. Dit is egter nou noodsaaklik dat hierdie mobilisering tot sigbare optrede en ’n spoedige deurbraak lei.
Verhoogde sigbare polisiëring moet onmiddellik in Rhodesfield, langs die R21 en ander geïdentifiseerde risikogebiede ingestel word.
Kringtelevisiebeelde, selfoondata, voertuigbewegings en alle beskikbare forensiese getuienis moet geïntegreerd ontleed word. Private veiligheidsmaatskappye moet by ’n gekoördineerde veiligheidsnetwerk betrek word.
Vroue kan nie aanvaar dat hul bewegings permanent beperk moet word omdat misdadigers vry rondloop nie. Die staat se grondwetlike verantwoordelikheid is om die misdadiger se bewegings te beperk – nie dié van wetsgehoorsame vroue nie.
Die VF Plus doen ook ’n beroep op die publiek om nie onnodig oor die aangeleentheid te gis nie, maar om enige verdagte optrede en inligting onmiddellik aan die polisie te rapporteer.
Die slagoffers en hul families verdien antwoorde. Kemptonpark verdien veiligheid. Daar mag nie nog ’n slagoffer wees nie.


