Die VF Plus het vandag bottels water aan die Pioneerhuis vir bejaardes geskenk om die waterkrisis waaronder die inwoners tans gebuk gaan, te verlig.
Groot dele van Vanderbijlpark is al ses dae sonder water nadat Randwater onderhoud op die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se waternetwerk gedoen het.
Inwoners is nou genoodsaak om water aan te koop omdat Emfuleni nie geld het om watertrokke te huur nie.
Skole wat gister heropen het, is ook sonder water.
Emfuleni het in die verlede wel watertenks op strategiese plekke ontplooi, maar kan weens Randwater se beslaglegging op die munisipaliteit se bankrekening geen gebeurlikheidsplan in plek stel nie.
Randwater het na die voltooiing van die instandhouding ook nie genoeg water aan Emfuleni gelewer nie. Na vele versoeke is meer water wel voorsien, maar steeds nie genoeg om die hele munisipalteit te bedien nie.
Die VF Plus het intussen boorgat-eienaars op sosiale media versoek om mense in nood te help.
Die waterkrisis kan nie net voor Randwater se deur gelê word nie. Die Emfuleni-munisipaliteit is weens die ANC se wanbestuur in so benarde finansiële situasie dat geen gebeurlikheidsplan in plek gestel kan word nie.
Emfuleni se inwoners verdien beter as die ANC.