Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-reaksie op Gautengse provinsiale rede: Onder ANC is Gauteng oor laaste 30 jaar een stap vorentoe en duisend terug

Een stap vorentoe en ʼn duisend terug. Dit is wat die afgelope 30 jaar met Gauteng onder die ANC gebeur het. Al die voorbeelde wat premier Panyaza Lesufi voorgehou het as vooruitgang, dien eerder as bewys van agteruitgang.

Hierdie agteruitgang is veral in die provinsie se ekonomie sigbaar. Beide die nasionale en provinsiale regering is bankrot en kan nie meer programme befonds soos nodig nie.

Die ekonomie is vernietig deur 30 jaar van wanbestuur, korrupsie en staatskaping deur tenderpreneurs wat steeds plaasvind. Ook deur onbevoegdheid en irrasionele ekonomiese beleid wat die ekonomie vernietig.

Om voorbeelde soos die Nelson Mandelabrug in Johannesburg en die sokkerstadion by Soweto voor te hou as infrastruktuurontwikkeling, is om na strooihalms te gryp.

Almal kan sien hoe die provinsie se infrastruktuur agteruitgaan. Die duisende kilometer grondpaaie in townships, slaggate in provinsiale paaie en ʼn gebrek aan openbare skole is enkele voorbeelde.

Die provinsie is só swak bestuur dat ʼn snelwegstelsel wat al voor 1994 afbetaal is, oornag in ʼn tolpad verander is. Dit word deur al die inwoners van Gauteng verwerp en ten spyte daarvan is dit nog steeds ʼn tolpad.

Wat misdaad aanbetref, is dit ironies dat Gauteng met al sy hommeltuie, kringtelevisie, sekuriteitskameras, paniekknoppies en nuwe vredesbeamptes, die hoogste misdaadvlakke ooit beleef. Al die foefies in die wêreld kan ʼn swak regering nie beter maak nie.

Daarby bestaan daar groot onsekerheid oor die vredesbeamptes se regsaanspreeklikheid en dit sal nog gevolge hê.

Inwoners van Gauteng het nie ʼn polisiestaat nodig nie, maar ʼn provinsie wat ekonomies vooruitgaan en waar ordentlike werksgeleenthede geskep word wat waardigheid aan mense kan teruggee.

Al wat die premier in sy provinsiale rede gedoen het, was om onvervulde beloftes in ʼn pakkie met nuwe beloftes toe te draai om die kiesers te mislei in ʼn desperate poging om nie die mag verloor nie.

Die VF Plus wou van Lesufi weet waarom dit nou nodig is om soveel mense in diens te stel in onvolhoubare regeringposisies as die ANC dan net suksesse oor die afgelope dertig jaar behaal het.

Hierdie en ander tierlantyntjies rondom misdaadbekamping, township-ontwikkeling, sonplase en die beëindiging van e-tol is duidelik voorverkiesingsfoefies.

In die komende verkiesing gaan ʼn veelpartyregering tot stand kom wat sal verstaan hoe om een tree ná die ander vorentoe te gee om ʼn florerende, veilige en familievriendelike provinsie te skep.

Gauteng sal weer opgebou word as die ekonomiese reus wat hy eens was, al moet ʼn duisend stappe vorentoe geneem word. Met die ANC uit die pad, sal dit gedoen word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.