‘n VF Plus-raadslid, me. Jennifer Glover, is Dinsdagaand tydens ʼn raadsvergadering van die Ekurhuleni-metro onbestrede verkies as voorsitter van die metro se oorsigkomitee oor gesondheid en maatskaplike ontwikkeling.
Glover bring waardevolle ervaring na die rol. Sy het reeds in 2022 as burgemeesterskomiteelid vir dieselfde portefeulje gedien onder die vorige koalisieregering en is vir jare ’n aktiewe lid van die komitee.
Haar kundigheid en toewyding tot gemeenskapswelstand maak van haar die natuurlike keuse vir hierdie belangrike toesigposisie.
Die VF Plus wil beklemtoon dat effektiewe oorsig ’n kernfunksie van plaaslike regering is. Dit hou die uitvoerende gesag aanspreeklik en verseker dat dienste deursigtig, verantwoordelik en doeltreffend aan inwoners gelewer word.
Die gesondheids- en maatskaplike ontwikkelingsportefeulje raak direk aan kwesbare gemeenskappe en noodsaaklike ondersteuningsprogramme, wat sterk leierskap noodsaak.
Onder Glover se leiding vertrou die VF Plus dat die komitee toesig sal versterk, aanspreeklikheid sal bevorder en sal bydra tot groter stabiliteit in die metro.
Die party bly verbind tot verantwoordelike bestuur en die beskerming van inwoners se reg op betroubare dienslewering.


