Die VF Plus, saam met sowat 30 vrywilligers en organisasies in Brakpan, het Dinsdag ’n groot verskil gemaak in die lewe van die inwoners van Tweedypark.
Sowat 80 woonstelle in die munisipale kompleks is berook om ’n ernstige probleem met weeluise die hoof te bied. Die kompleks huisves bykans 100 bejaardes wat al maande lank onder die plaag gebuk gaan.
Met die hulp van The Specialist Pest Control en Cleaning Services is die beroking en ontsmetting kosteloos gedoen. Terwyl die woonstelle behandel is, het Hannelie Nel van Cleaning Services en haar span beddens na buite gedra, deeglik ontsmet en selfs kos aan die bejaardes voorsien.
Die VF Plus spreek ook waardering uit teenoor Leon van Lielies Electrical en Nicoline van Staden en haar span vir hul bydraes, donasies en peuselhappies wat die dag vir die inwoners ligter gemaak het.
Onder normale omstandighede sou so ’n projek ’n groot finansiële las gewees het, maar danksy gemeenskapsamewerking is dit kosteloos aan die inwoners verskaf.
Die VF Plus sal aanhou om sy gemeenskapsdiens teenoor behoeftiges uit te leef en, met die hulp van vrywilligers en organisasies, die lewensomstandighede van bejaardes en ander kwesbare inwoners te verbeter.


