Die VF Plus deel in die vreugde van kleinskaalse vissers van die Weskusstreek wat die reg herwin het om weer op see te gaan met hul vissersbote. Dit stel ‘n fout reg wat in die eerste plek nie nodig was nie.
Hierdie regstelling is die gevolg van talle skrywes, volgehoue druk en ’n formele appèlproses nadat die departement van bosbou, visserye en die omgewing besluit het om die aantal kleinskaalse vissersbote met visvangregte van 547 tot 77 te verminder.
Koöperasies van kleinskaalse vissers en vissersgemeenskappe moes daarna veg vir hul regte wat die departement juis moes beskerm.
Die vissers was vir maande lank in groot onsekerheid vanweë besluite wat hul toegang tot tradisionele lynvisregte ernstig ingeperk het. Dit het nie net hul inkomste bedreig nie, maar ook voedselsekuriteit, plaaslike ekonomiese bedrywighede en die waardigheid van vissersgesinne wat van die see afhanklik is om te oorleef.
Die VF Plus verwerp enige aansprake van die betrokke minister, mnr. Willie Aucamp, wat die saak nou voorhou asof dit bloot sy spontane goeie oordeel was om die regte te herstel. Hierdie uitkoms het volgehoue druk geverg.
Die VF Plus wil dit duidelik stel dat die ware erkenning die vissers, koöperasies en gemeenskappe toekom, wat geweier het om stil te bly en hul lot te aanvaar. Hulle het met reg opgestaan teen ‘n aanslag op hul bestaansreg.
Die voorval dui op ’n dieper probleem in die bestuur van kleinskaalse visserye: Beperkte raadpleging en besluitneming wat nie altyd die praktiese en menslike gevolge daarvan ten volle verreken nie.
Die VF Plus sal steeds daarop aandring dat die regte en belange van kleinskaalse en bestaansvissers met erns, respek en konsekwentheid hanteer word.
Hierdie gemeenskappe het sekerheid, regverdige toedelings en behoorlike erkenning van hul historiese en ekonomiese rol nodig — nie regstellings nadat hulle reeds groot skade gely het nie.


