Die Ekurhuleni-metro se volgehoue versuim om diensverskaffers betyds te betaal, het ’n ernstige krisis veroorsaak wat dienslewering vertraag en die metro se reeds wankelende infrastruktuur verder onder druk plaas.
Luidens ’n gesamentlike verslag van die departemente van ekonomiese ontwikkeling en finansies, wat Dinsdag voor die raad gedien het, word tenderprosesse dikwels eers ná die 120-dae teiken afgehandel.
Hierdie administratiewe voetesleep vertraag projekbeplanning, ondermyn dienslewering en stel noodsaaklike infrastruktuurprojekte in gevaar.
Die verslag toon dat sommige kontrakteurs jare lank op betaling wag. Hierdie vertragings dwing kontrakteurs om projekte te staak, stel werksgeleenthede in gevaar en laat boupersele oop vir vandalisme.
Die uiteinde is verhoogde boukoste en verdere vertragings — ’n dubbele slag vir gemeenskappe wat dringend ontwikkeling benodig.
Die metro word boonop toenemend aan regsaksies blootgestel. Kontrakteurs wend hulle tot die howe om betaling af te dwing, wat kan lei tot kostebevele en hofuitgawes teen die metro. Met ’n reeds beperkte begroting plaas dit ’n ondraaglike las op finansies en benadeel belastingbetalers wat vir noodsaaklike dienslewering betaal.
Hierdie situasie is onvolhoubaar en skep ’n groeiende finansiële risiko vir die metro en sy inwoners.
Die VF Plus neem kennis van die aanbevelings vir ’n kommunikasie-stelsel wat diensverskaffers op hoogte hou van betalings, sowel as dissiplinêre stappe teen amptenare wat doelbewus betalings vertraag.
Die party sal die implementering van hierdie aanbevelings streng monitor en die uitvoerende bestuur tot verantwoording roep.
Tydige betaling en ’n doeltreffende verkrygingsketting is nie bloot administratiewe funksies nie, maar kernvereistes vir volhoubare dienslewering, ekonomiese stabiliteit en die beskerming van belastingbetalers se geld.
Die metro moet nou daadwerklik optree om wanbestuur uit te roei en dienslewering aan inwoners te herstel en te beskerm.


