Die VF Plus se raadslid in Kemptonpark, Jean Kriek, het gisteroggend (17 Julie) vroeg ʼn oortreder in Birchleigh-Noord help vastrek waar hy probeer het om by ʼn meenthuiskompleks in te breek.
Kriek het omstreeks halfeen die oggend ʼn lawaai by ʼn nabygeleë meenthuiskompleks gehoor en besluit om ondersoek in te stel.
Hy het ʼn man aangetref wat aan die toegangshek van die kompleks peuter om toegang te verkry.
Kriek het onmiddellik ʼn sekuriteitsmaatskappy geskakel waarna die man aangehou is in afwagting op die polisie.
Volgens die polisie word dié man met drie afsonderlike inbrake in Kemptonpark verbind. Hy is tans op parool vir motordiefstal.
Die party bedank Jean, die MML-sekuriteitsmaatskappy en die Norkempark-polisie vir hule vinnige optrede.
Die VF Plus is daartoe verbind om ʼn stem vir die gemeenskap te wees en sal alles in sy vermoë doen om woonbuurte veiliger te maak.


