Die veiligheidslandskap in Gauteng se landelike gebiede is toenemend onder druk weens die vestiging van informele nedersettings, dikwels sonder voldoende beplanning of die verskaffing van noodsaaklike dienste of werksgeleenthede.
Hierdie verskynsel omskep landelike gebiede in onbedoelde stortingsterreine wat bestaande kwesbaarhede vererger en nuwe uitdagings vir landelike veiligheid skep.
Gauteng se landbousektor is in geheel onder druk ten spyte van die R671 miljoen toekenning aan die departement van landbou en landelike ontwikkeling. Dit word toegeskryf aan die departement se onvermoë om fondse effektief te bestee.
Die departement se visie om Gauteng as ‘n landbouverwerkingsentrum te vestig, kleinboere tot kommersialisering te ondersteun en voedselonsekerheid te verminder, is van kardinale belang in ʼn provinsie wat met hoë werkloosheid sukkel en na ekonomiese herstel streef.
Die begroting se toereikendheid vir Gauteng se uitdagings is egter twyfelagtig.
Die VF Plus is van mening dat die verlammende agterstand in infrastruktuurprojekte, onvoldoende ondersteuning vir kleinboere en koöperasies dringend aangespreek moet word.
Die verdere versuim om beskikbare grond vir landbouproduksie te identifiseer en te ontsluit, is ‘n werklike rede tot kommer.
Gauteng se landbou, hoewel dit ‘n kleiner persentasie tot die provinsiale bruto binnelandse produk (BBP) (sowat 0,5%) bydra, hou geweldige potensiaal in weens markte wat naby plase is asook logistieke voordele, veral vir landbouverwerking.
Hierdie potensiaal word egter belemmer weens onwettige grondbesettings, infrastruktuur-tekortkominge en inkonsekwente ondersteuning aan boere.
Sonder ‘n meer aansienlike en doeltreffend bestuurde begroting, tesame met robuuste uitvoering, loop die Gautengse landbousektor die risiko om te stagneer wat sal bydrae tot hoër werkloosheid en voedselonsekerheid.
Die departement moet seker maak dat elke rand van sy begroting in tasbare, impakvolle verandering omgesit word.


