Die VF Plus het vandag in ʼn skrywe aan die burgemeester van die Ray Nkonyeni-plaaslike munisipaliteit, me. Zodwa Mzindle, geëis dat die munisipaliteit onmiddellik ʼn opname oor die omvang van die vloedskade in Margate doen.
Dit is om die provinsiale rampbestuursentrum in staat te stel om in ingevolge toepaslike wetgewing ʼn bystandsprogram in werking te stel vir geraakte inwoners en ondernemings.
Só ʼn opname is noodsaaklik om die KwaZulu-Natalse provinsiale regering in staat te stel om vinnig en doeltreffend in te gryp en die gebied formeel tot rampgebied te verklaar sodat bystandsfondse ontsluit kan word.
Die reënstorm Sondagaand het enorme skade aan ondernemings, woonhuise, vakansie-eenhede en infrastruktuur aangerig.
Die VF Plus sal die vordering van die voorgeskrewe prosesse monitor om te verseker dat die ANC-beheerde munisipaliteit en provinsiale regering nie weer voete sleep met die implementering van rampbystand nie.