Die VF Plus eis dat die amptenare wat verantwoordelik is vir die R200 miljoen-boete wat die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) opgelê is vir ‘n Oortreding van die Nasionale Omgewingswet, self daarvoor moet opdok.
Die GMM is dié boete opgelê nadat hy skuldig bevind is op ses aanklagte waaronder die besoedeling van waterbronne, die oortreding van die Nasionale Waterwet en die versuim om ‘n voldoeningskennisgewing na te kom.
Die VF Plus eis in ʼn dringende skrywe aan die munisipale bestuurder, mnr. Eliot Maseko, en die burgemeester, mnr. Nhlakanipho Zuma, dat die boete van skuldige amptenare verhaal word.
ʼn Dissiplinêre ondersoek moet gedoen word om te bepaal watter ampsdraers skuldig is sodat soveel moontlik van die bedrag van hulle verhaal kan word.
Dit is om te voorkom dat belastingbetalers wat getrou hul dienstegelde betaal, nie ook pa moet staan vir die munisipaliteit se wanbestuur nie.
Die VF Plus het reeds sedert 2019 deurlopende druk op die munisipaliteit geplaas om die voortslepende rioolkrisis en -besoedeling aan te spreek.
Dit is veral die vervalle infrastruktuur en wanbestuur van fondse wat tot bogenoemde krisis gelei het.
Die VF Plus sal druk toepas om toe te sien dat geregtigheid geskied en die regte oortreders pa staan vir die boete.
Kiesers moet op 29 Mei van die ANC in regering ontslae raak en vervang met ʼn verantwoordbare koalisieregering waarvan die VF Plus deel is.
Sonder die ANC kan ons die land en munisipaliteite herstel en bou.


