Die skielike bedanking van die ANC-burgemeester in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, James Tsolela, word verwelkom, maar is geen verassing nie.
Die omvang van die verval en korrupsie in dié ANC-beheerde munisipaliteit onder die bestuur en leiding van Tsolela en sy kaders het eens te veel geword, skynbaar selfs vir die ANC in Noordwes.
Volgens die munisipaliteit se woordvoerder, Nick Mapheele, is hy deur die ANC “herroep”.
Sy bedanking volg ook kort na die skorsing van Matlosana se hoof finansiële beampte, Mercy Phetla, na bewerings dat sy ʼn luukse voertuig, ʼn Amarok-bakkie ter waarde van R1,4 miljoen, van ʼn munisipale diensverskaffer ontvang het.
Die VF Plus het reeds herhaaldelik onreëlmatighede in die toekenning van tenders, wanbesteding en die nadelige gevolge van kaderontplooiing in Matlosana uitgewys.
Halfhartige pogings deur die Noordwes-provinsiale regering om by die munisipaliteit in te gryp, het herhaaldelik misluk en is gekelder deur die voortdurende ANC-faksiegevegte om hul hande op die belasting-en regeringsgeld van die munisipaliteit te kry.
In Tsolela se dienstermyn het die uitstaande skuld aan Eskom en Midvaal Water toegeneem tot ʼn verbysterende bykans R3,6 miljard wat Matlosana tegnies bankrot laat.
Hierdie is ʼn klassieke voorbeeld van hoe die ANC-regering met hul kaderontplooiing, plundery, korrupsie en wanbestuur eens vooruitstrewende dorpe soos Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartbeesfontein bykans op hul knieë gedwing het.
Dit is daarom belangrik dat kiesers met hul stemme op 29 Mei verenig agter die VF Plus, om saam met ander partye wat deel is van die Veelpartyhandves ʼn verantwoordelike en professionele regering te vorm.
Saam kan ons die land herstel en bou.