ʼn Doeltreffende speurdiens is een van die beste skanse teen ernstige misdaad en die bewyse laai op dat hierdie skans besig is om totaal in Suid-Afrika te verbrokkel.
Uit ʼn parlementêre vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus aan die minister van polisie, Bheki Cele, blyk dit dat meer as 2,5 miljoen sake wat die speurdiens in die boekjare van 2020/21 tot -23 ondersoek het, onafgehandel en steeds onopgelos is.
Dit is meer as 42% van alle misdaadsake wat by die polisie aangemeld is. Oor dieselfde tydperk was slegs 34,25% van die ondersoeke tot só ʼn mate suksesvol dat vervolging ingestel kon word.
In dié periode is altesame 628 354 lasbriewe ten opsigte van onvoltooide sake uitgereik wat nie uitgevoer kon word nie.
In sy antwoord sê die minister in die geval van onopgeloste sake kon daar nie voldoende bewyse gevind word om ʼn skuldige of skuldiges aan die man te bring nie.
Strafsake, wat verkillende tydperke van verjaring het, word nogtans nie finaal afgesluit nie en die ondersoek kan hervat word indien nuwe inligting na vore kom.
Hierdie antwoord van die minister maak dit duidelik dat die polisie nie meer die vermoë het om ernstige misdaad te bekamp nie. Meer as 40% van alle aangemelde sake bly onopgelos en die kans om ʼn suksesvolle vervolging in die hof te kry, is selfs nog skraler.
Navorsing van AfriForum het byvoorbeeld verlede jaar getoon dat daar slegs 5% skuldigbevindings in howe verkry is van alle plaasaanvalle en -moorde wat van 2019 tot 2022 by die polisie aangemeld is.
Verlede maand het dit uit ʼn vraag van die VF Plus aan die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, geblyk dat meer as 1,8 miljoen strafsake sedert 2018/19 nie aangehoor en afgehandel kon word nie weens gebrekkige dossiere.
Hiermee saam het die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, einde verlede jaar aan die polisie se parlementêre portefeuljekomitee onthul dat die polisie sedert 2016 altesame 8 400 speurders verloor het.
Die aantal speurders het van 26 000 in 2016/17 afgeneem tot slegs 17 600 in Oktober 2023. Wat die situasie vererger, is dat baie van die speurders wat verlore gaan, gesoute en ervare polisielede is wat met pensioen aftree of na die private sektor gelok word.
Dit is duidelik dat die totale strafregstelsel onder die ANC-regering tot ʼn groot mate in duie gestort het.
Niks illustreer dit beter as die land se moordsyfer nie. Ses jaar gelede was dit 34 per 100 000 van die bevolking. In 2022 het dit gestyg tot 36,5 en tans staan dit op 45, die tweede hoogste ter wêreld.
Dit het van kritieke belang vir elke persoon in Suid-Afrika geword om van die ANC ontslae te raak en te vervang met ʼn bevoegde regering waarvan die VF Plus deel vorm. Suid-Afrika moet weer herbou word.