Die VF Plus eis daadwerklike optrede van die Dr. Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit oor die voortgesette onwettige storting van onder meer tuinvullis, huishoudelike vullis en selfs bourommel in oop areas op Aberdeen.
Dit het nou ontaard in erge omgewingsbesoedeling en is ʼn gesondheidsrisiko.
Hierdie situasie raak nie net die inwoners van Aberdeen nie, maar ook die omliggende gemeenskappe van Loutesville en Tembelizizwe.
Ten spyte van herhaalde klagtes en duidelike bewyse van voortgesette oortreding, bly die munisipaliteit in gebreke om daadwerklik op te tree. Die afwesigheid van wetstoepassing en die gebrek aan aanspreeklikheid ondermyn die publiek se vertroue in plaaslike bestuur en skep ’n gevaarlike presedent van strafloosheid.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die munisipale bestuurder, dr. Eddie Rankwane, om onmiddellik die volgende stappe te neem:
• ’n Volledige ondersoek na die omvang van die storting en die impak op waterinfrastruktuur en ekologiese stelsels.
• Die onmiddellike beveiliging en rehabilitasie van die betrokke terrein.
• Die afdwinging van bestaande munisipale verordeninge en die strafregtelike vervolging van oortreders.
• Die ontwikkeling van volhoubare, gemeenskapsgerigte afvalbestuursoplossings in samewerking met plaaslike leiers.
Die VF Plus sal nie toekyk hoe die gesondheid van inwoners en die omgewing van Aberdeen verder agteruitgaan nie.
Die party sal voortgaan om druk uit te oefen op die munisipaliteit en, indien nodig, die saak na hoër owerhede eskaleer.
Die VF Plus herinner die munisipaliteit daaraan dat die reg van elke inwoner om in ’n gesonde, veilige en ordelik bestuurde omgewing te leef en te werk ononderhandelbaar is.


