Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dapper stappe met mediumtermynbegrotingsraamwerk is bemoedigend

Die mediumtermynbegrotingsraamwerk van die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in moeilike en beperkende omstandighede tog aan ‘n paar belangrike verwagtinge voldoen.

Een van die belangrikste verwikkelings is die inflasiekoers wat aangepas en verlaag is tot 3%. Dit is die eerste verandering aan die inflasieteiken in 25 jaar.

Die aangepaste inflasieteiken ondersteun laer rentekoerse wat broodnodige druk op verbruikers en die sakesektor sal verlig en langtermyn-groei sal stimuleer.

Dit verbeter mededingendheid, verminder skuld las en bevorder stabiliteit, maar sal streng fiskale dissipline vereis om volhoubaar te wees.

Dit beteken nie skielike ekonomiese beterskap nie, maar enkele positiewe aspekte skyn wel soos groen lote aan die uitgedorde Suid-Afrikaanse fiskale boom.

Die hoër as verwagte belastinginkomste van R17,5 miljard is ook goeie nuus. Hierdie is ‘n dividend van die belegging in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en moet aangewend word om ekonomiese groei daadwerklik te stimuleer.

Dit is jammer dat die minister hom nie wou verbind oor die moontlikheid dat dit straks goeie belastingvooruitsigte inhou na sy aanduiding vroeër dat daar volgende jaar tot R20 miljard ekstra aan belasting ingevorder sal moet word nie.

Die fiskus se inkomste vir die eerste ses maande van die boekjaar is 9,3% beter as ‘n jaar gelede en dit het gehelp dat die regering sy skuld-tot-BBP-verhouding by 77,9% kon laat draai.

Skuld bly duidelik ‘n probleem en dit is verontrustend dat die 77,9% steeds 0,5% hoër is as wat in die Mei-begroting voorspel is.

Dit is ook jammer dat geen duidelike aankondiging gedoen is oor ‘n fiskale anker om besteding te bestuur en vermorsing te voorkom nie. ‘n Beleidsvoorstel hieroor sal nou eers in 2026 gefinaliseer word.

Die hoër as verwagte inkomste gee wel ruimte vir belangrike infrastruktuurprojekte soos rehabilitasieprojekte by Transnet en infrastruktuurontwikkeling soos die herbou van die parlementsgebou.

Die fiskale raamwerk met gepaardgaande voorgestelde strukturele hervormings sal eindelik slegs slaag indien departemente en ook munisipaliteite funksioneer, dienste lewer, infrastruktuur in stand hou en uitbrei, en onnodige uitgawes besnoei.

Dit is buite die minister van finansies en nasionale tesourie se beheer.

Alles moet eindelik gesien word as ‘n onderbou vir ekonomiese groei. In hierdie opsig is besparing en beleid allerbelangrik, maar so ook dienslewering op plaaslike vlak. Beleggings en uitbreiding kan nie geskied as daar nie betroubare watervoorsiening en ander dienste is nie.

Ekonomiese herstel hang steeds af van streng fiskale dissipline, ‘n duidelike en werkbare fiskale anker in 2026, en effektiewe dienslewering op alle vlakke. Daarsonder sal die enkele groen lote ook gou verdor.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.